Oor Ons Gemeente
"Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde." – Mattheüs 18:20
Ontstaan
Die Gereformeerde Kerk Kempton Park is op 22 November 1947 van die Gereformeerde Kerk Benoni afgestig as die tiende gemeente in die Oos-Rand, ruim 42 jaar ná die eerste Oos-Randse gemeente, Germiston (1905). Sedertdien het die gemeente gestrek en uit haar dogtergemeentes Kempton Park-Noord (1966) en Kempton Park-Mooifontein (1976) laat afstig. Die Gereformeerde Kerk Kempton Park is die oudste van die drie gemeentes in Kempton Park wat tot die GKSA behoort.
Ons Kerkgeboue
Die Eerste Kerk (Stomptoringkerk)
Die eerste kerkgebou is teen 'n koste van £16,700 opgerig op die hoek van Monumentweg en Commissionerstraat. 'n Lidmaat, Andries Haasbroek, was die bouaannemer. Die indrukwekkende gebou met sy granietvoorkoms is op 28 November 1953 ingewy. Dit het mettertyd in die gemeenskap as die "Stomptoringkerk" bekendgestaan. Nadat die gemeente die gebou verkoop het, is dit tot 'n kultuursentrum omskep en staan vandag bekend as die Bell Tower.
Op daardie inwydingsdag is 'n groot aantal kinders gedoop. Die heel eerste dopeling, Heibrie Wolmarans (gebore Van der Walt), het 60 jaar later haar doop as volg onthou: "Al die ouers en babas was voor die kansel en my ouers op die punt. Waar die dominee altyd van regs na links op die ry afgegaan het, het hy op hierdie dag van links na regs begin en so was ek eerste!"
Die Huidige Kerkgebou
Die huidige kerkgebou is geleë op die hoek van Highveldweg en Huggettstraat. Bouwerk het in 1989 begin en die kompleks is teen 'n koste van R2,595 miljoen voltooi, kontant betaal. Die bouaannemers was Dirk Fivaz tesame met drie lidmate, Frans en Henk Duvenhage en Jacques Vorster. Die fondamente rus op 74 heipale – 'n stewige fondament wat herinner aan die geestelike fondament van ons geloof.
Die kerksaal is op 9 Oktober 1993 ingewy en tydens die bouproses vir eredienste gebruik. Die katkisasielokale is in 1995 voltooi.
Die nuwe kerkgebou is op 19 Oktober 2003 ingewy. By die viering van die gemeente se 60-jarige bestaan op 17 en 18 November 2007 is vier hoekstene onthul: 'n replika van die vorige kerk se hoeksteen, een met die name van predikante sedert 1947, een met die bouers se gegewens, en 'n laaste steen ter herinnering aan die ingebruikneming van die nuwe kerk in 2003.
Die Pyporrel
Ons pyporrel beskik oor 1,473 pype en kom uit die gebou van die NG Gemeente Pretoria-Noord. Dit is oorspronklik in 1968 daar geïnstalleer. Die kerkgebou van Pretoria-Noord is gesloop nadat die gemeente by Floraunapark ingelyf is. Die destydse Suid-Afrikaanse Orrelbouers het die orrel van Pretoria na Kempton Park vervoer en hier geïnstalleer. Die orrel uit die vorige betonkerk is aan die Gereformeerde Kerk George verkoop, waar dit vandag nog gebruik word. So dien hierdie orrels tot eer van God in verskillende gemeentes.
Predikante
Dr. J.C. Kruger
1949–1966
Ds. B.J. Lombard
1966–1986
Dr. M.J. du Plessis
1986–1999
Ds. E.J. Tiemensma
1999–2018
Ds. H.F.R. (Riekert) Pelser
2019 – hede
"Gedenk dan aan die dinge van die voortyd, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; ja, Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie."
Jesaja 46:9